Jean-Jacques Rousseau

Jean-Jacques Rousseau
Jean-Jacques Rousseau, pastelskildery deur Maurice Quentin de La Tour, 1753

Gebore (1712-06-28)28 Junie 1712
Genève, Switserland
Oorlede 2 Julie 1778 (op 66)
Ermenonville, Frankryk
Nasionaliteit Vlag van Frankryk Frankryk
Vakgebied Politieke filosofie, musiek, onderwys, literatuur, outobiografie
Beïnvloed deur Plato, Baruch Spinoza, Thomas Hobbes, John Locke, Denis Diderot, Niccolò Machiavelli
Invloed op Kant, die Franse Rewolusie, Maximilien Robespierre, Louis de Saint-Just, Die Teen-Verligting, Romantiek, Paine, Jacques Derrida, Leo Strauss, Maria Montessori, Karl Marx, G.W.F. Hegel, Louis Althusser, Johann Gottlieb Fichte, David Hume
Handtekening

Jean-Jacques Rousseau (* 28 Junie 1712 in Genève; † 2 Julie 1778 in Ermenonville (Oise) naby Parys) was 'n Geneefse skrywer, filosoof, opvoedkundige, natuurnavorser en komponis van die Verligtingstydperk. As beduidende wysgerige was hy een van die wegbereiders van die Franse Rewolusie en het 'n groot invloed op die 19de- en 20ste-eeuse opvoedkunde en politieke teorieë uitgeoefen.[1]

Sy Discours sur l'origine et les fondements de l'inégalité parmi les hommes (Diskoers oor die oorsprong en grondslag van ongelykheid tussen mense) en Du contrat social; ou Principes du droit politique (Oor die sosiale kontrak; of die Beginsels van politieke reg), is hoekstene in moderne politieke en sosiale denke. Rousseau se sentimentele roman Julie ou la Nouvelle Héloïse (Julie, of die Nuwe Héloïse) (1761) was belangrik vir die ontwikkeling van preromantiek en romantiek in fiksie.[2][3] Sy Émile, ou De l’éducation (Emile, of oor die Onderwys) (1762) is 'n opvoedkundige verhandeling oor die plek van die individu in die samelewing. Rousseau se outobiografiese geskrifte – die postuumgepubliseerde Les Confessions (Belydenisskrifte saamgestel in 1769), 'n begin van die moderne outobiografie, en die onvoltooide Les rêveries du Promeneur Solitaire (Die dagdrome van 'n Eensame Wandelaar) (saamgestel 1776–1778) – het die laat 18de-eeuse “Tydperk van Ontvanklikheid” (Age of Sensibility) geïllustreer en 'n verhoogde fokus op subjektiwiteit en introspeksie gebring wat later moderne skryfwerk gekenmerk het.

Rousseau raak in 1742 bevriend met mede-filosoof Denis Diderot, en skryf later oor Diderot se romantiese probleme in Les Confessions. Gedurende die tydperk van die Franse Revolusie was Rousseau die gewildste van die filosowe onder lede van die Jakobyne-klub. Hy is in 1794 as 'n nasionale held in die Panthéon in Parys begrawe, 16 jaar ná sy dood.

  1. Jean-Jacques Rousseau, in die Historical Dictionary of Switzerland.
  2. "Preromanticism Criticism". Enotes. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 April 2010. Besoek op 23 Februarie 2009.
  3. Darnton, Robert, "6. Readers Respond to Rousseau: The Fabrication of Romantic Sensitivity", The Great Cat Massacre  vir 'n paar interessante voorbeelde van kontemporêre reaksies op hierdie roman.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search